41-cm Spieëlteleskoop
Die 41-cm spieëlteleskoop of reflektor is in 2003 voltooi maar daar is 'n hele paar aspekte van die teleskoop wat nie bevredigend is nie en dit is die volgende:
- Probleme met die hoofspieël: Nie heeltemal rond nie, Kante nie haaks nie en spieël gekrap tydens alumisering.
- Motor ratkaste goed genoeg vir visuele waarneming maar nie vir CCD werk.
- Fokuser stapper motor te swak.
- Teleskoop te hoog vir huidige stoorplek wat veroorsaak dat dit sy posisie verloor wanneer dit gestoor word. Moet dus elke keer weer opgelyn word voor dit gebruik kan word.
Verkryging van die glas
Die 25 mm dikte glas is aangekoop by PG Glass aangesien daar in Suid-Afrika geen verskaffers van teleskoopglas bestaan nie en om die glas in te voer buite die kwessie was. Hulle is gevra vir 'n 41 cm ronde stuk glas wat 'n fout was soos ek later uitgevind het. Die glas het omtrent R800 gekos. Na ek die glas ontvang het, het ek egter agtergekom dat die glas nie rond is nie. In een rigting is dit 'n millimeter of wat langer as in die ander rigting, dus die glas is effens ellipties. 'n Verdere probleem was dat die glas redelik skuins langs die kante gesny is wat probleme skep as die spieël in 'n band in die teleskoop hang. Dit het dan die neiging om weg te trek vanaf die stutpunte aan die agterkant. Dus indien 'n mens sulke glas aankoop bestel dit vierkantig en sny dan self die spieël daaruit. Aangesien ek op daardie stadium nie 'n masjien gehad het om 'n ronde spieël daaruit te sny nie het ek besluit om maar met die glas se foute saam te leef.
Maak van die spieël
Die spieël het ek met die hand geslyp. 'n Fout wat ek gemaak het was om nie die agterkant plat te slyp nie. Vensterglas is redelik plat maar mag dalk nie plat genoeg wees vir 'n teleskoopspieël nie, veral vir 'n dun een nie. Die beste is om nie 'n kans te vat nie en dit agterkant plat te slyp. Dit kan ook nie agterna gedoen word nie want dan loop 'n mens die gevaar dat dit die optiese oppervlakte van die klaar spieël kan verander. Die kurwe van die spieël is ingeslyp deur 'n werktuig van gips te maak en teël blokkies daarop vas te lym. Die eerste stel teëls het uiteindelik weggeslyp en moes 'n tweede stel opgesit word. Die tweede stel was genoeg om die spieël klaar te slyp. Nadat die slypwerk klaar was is nog 'n werktuig van gips gemaak en bitumen gebruik om 'n lap daarop te maak. Cerium Oxide is as poleermiddel gebruik om die spieël te poleer. Na die poleerwerk klaar was is die proses begin om die spieël parabolies te maak. Uiteindelik was die spieël volgens die Foucalt en Ronchi toetse klaar. Daarna is gereël om die spieël te laat aluminiseer. Toe ek die spieël ontvang het by die plek wat die aluminisering gedoen het, het die spieël pragtig gelyk. Toe ek egter later by die huis die spieël van nader bekyk het ek tot my skok agtergekom dat die spieël vol krappe was. My vermoede is dat die persoon wat die aluminisering gedoen het, 'n vuil lap gebruik het om die spieël skoon te maak want die krappe is geboë soos wat 'n mens sal verwag as die lap vuil was. Slypwerk skrape is gewoonlik reguit dus kan dit nie daarvan wees nie. Dus nog 'n probleem met die spieël. Ongelukkig is die skade gedoen en het ek besluit om maar tot tyd en wyl daarmee saam te leef. Ten spyte van die probleme met die spieël gee dit tog 'n goeie beeld en kan 'n mens ver meer sien as in kleiner teleskope. Die Orion newel gloei behoorlik daardeur gesien.