Teleskoop bou

Akwariumglas

Die glas vir die 76-cm en 51-cm teleskoopspieëls het ek heel toevallig bekom. Ek en twee van my werkskollegas, Johan Fourie en Stephen Wright, het op 'n dag die Tygerbergvallei sentrum besoek. Johan wou by een van die winkels wees. By die spesifieke winkel het hulle onder andere teleskope verkoop en terwyl ons vir Johan gewag het, het ek die teleskope bekyk. Een van die persone in die winkel het opgemerk dat ek die teleskope bekyk, nader gestaan en homself voorgestel as Bill Hollenbach. Toe hy verneem dat ek ook teleskope maak het hy genoem dat hy nog 'n stuk glas by die huis het wat ek kon kom haal as ek wou. Hy was op daardie stadium op die punt om na die Aloe Rigde Wildpark te verhuis ten einde daar 'n sterrewag vir hulle te bestuur. Die idee was dat die mense saam met die diere kyk dan ook sou kon sterre kyk. Na 'n koppie koffie saam met Bill in die sentrum is ons na Bill se huis om te gaan kyk na die glas en om dit moontlik op te laai. Die stuk glas was egter te groot om in 'n kar gelaai te kry. Bill het my 'n 49.5-cm stuk glas gegee waarmee hy een van sy spieëls geslyp het. 'n Paar dae later het ek en een van my ander werkskollegas, Callie van der Merwe, met sy bakkie na Bill se huis gery en die glas gaan oplaai.

Die glas kom uit die ou Seepunt Akwarium toe dit opgebreek is. Die ou Seepunt Akwarium is in 1948 gebou onder die beskerming van die Universiteit Kaapstad se viskunde departement ter ere van LBJ Smith van selekant faam. Die glas vir die akwarium is gemaak by 'n bekende glaswerke in Engeland en per skip ingebring in die Victoria kom van die Kaapse hawe.[1] Regs is 'n foto van die oorblywende stuk glas. Die glas is 37 mm dik.

Volgens 'n berig in Die Burger van 7 April 1989 [2]het die afdeling Seevisserye die Seepunt akwarium in die sewentigs begin gebruik vir navorsing.

Daarna het die volgende berig het in Die Burger van 5 Maart 1994 verskyn:[3]

Bal aan die rol gesit vir opknap van Seepunt-akwarium

KAAPSTAD. Voorstelle vir uitgebreide opknappingswerk ter waarde van sowat R10 miljoen aan die Seevisserye se navorsingsakwarium in Seepunt is deur die Departement van Omgewingsake goedgekeur. Ons omgewingsverslaggewer berig die voorstelle sluit die sloping van die sentrale deel van die huidige gebou en die oprigting van 'n nuwe navorsings akwarium in. Die res van die kompleks sal ook opgegradeer word. Mnr. Alan Robertson, adjunkdirekteur: tegniese bestuur en ontwikkeling van die navorsingsinstituut, het eergister ná 'n vergadering met die argitekte, Yudaken en Stander, aan die stadsraad gesê die nuwe gebou sal die minimum invloed op die uitsig van woonsteleienaars aan die agterkant hê. Planne vir die opgradering word jare lank reeds oorweeg, maar geld is eers verlede jaar beskikbaar gestel. Die publiek sal toegang hê tot 'n inligtingsentrum in die nuwe akwariumgebou. Tenders sal teen November gevra word en bouwerk sal vroeg in 1995 begin.

Uit die berig wil dit voorkom of die akwarium in 1995 opgebreek is. Toe die akwarium opgebreek is, is die glas aan die Cederberg Sterrewag geskenk deur Dr. Deon Horstman onder die voorwaarde dat hulle dit nie mag verkoop nie maar gebruik om teleskope van te maak. In totaal het die sterrewag omtrent 4.5 ton glas ontvang. Deur die jare is die glas aan mense uitgedeel om teleskope van te maak.[1] Ek het die glas in ongeveer 1998 by Bill Hollenbach gekry.

Sny van die 76-cm en 51-cm spieëls uit die glas

Aangesien ek die beste gebruik van die glas wou maak, het ek besluit om die grootste moontlike spieëls daaruit te sny. Eers moes bepaal word wat is die grootste moontlike spieël wat daaruit gesny kan word. Dit is gedoen deur die glas op te meet en dit daarna in CAD te teken.

Die tekening op die linkerkant wys die deel van die glas waaruit die 76-cm en 52-cm spieëls gesny is. Die regterhandse tekening is die oorblywende stuk glas waaruit teoreties 'n 31-cm spieël gesny kan word.

Die 76-cm en 51-cm spieëls is gesny deur 'n tydelike snymasjien te bou. 'n Groot beskuitjie snyer is gebou deur 'n 762 mm skyf met 'n “router” uit blokhout te sny. Vier sinkplaat stroke is daarna rondom die skyf vasgeskroef. Die glas is onder die masjien geplaas en 'n dam is met stopverf rondom die sny area gebou. Die dam is nodig om die water en silikoon karbied poeier binne te hou. Die sny proses het 'n hele paar ure geneem en die sinkplaat stroke moes een keer vervang word aangesien hulle ook weggevreet word.

Die 31-cm spieël moet nog uitgesny word maar daarvoor sal die slyp en poleer masjien gebruik word.

Bronnelys

1. Volgens Bill Hollenbach

2. Kaapstad het 'behoefte aan see-akwarium: Die Burger Laaste, 7 April 1989, bl. 15.

3. Bal aan die rol gesit vir opknap van Seepunt-akwarium: Die Burger Laaste, 5 Maart 1994, bl. 2.