Fotografie

Slang fotos

Ek het die tabakrolletjie slangetjie dood in die straat voor my huis gekry. Byt merke op die slang wys dat dit deur iets, waarskynlik 'n kat doodgebyt is. Dis jammer want tabakrolletjies is onskadelike slange wat slakke vreet. Ek het 'n tabakrolletjie al twee keer in my tuin opgemerk en ook al een gesien langs die voetpaadjie tussen die WNNR en die woonstelle. Ek het ook baie leë slakdoppe in my tuin opgemerk en ek vermoed dis die werk van die tabakrolletjie daar ek geen gif in die tuin gebruik nie. In Engels is die slangetjies bekend as "slug-eater". Die slangetjie het die naam tabakrolletjie gekry omrede dit 'n gewoonte het om homself soos 'n rol tabak op te rol. Ek het self gesien hoe die slangetjie homself opgerol het onder 'n hoop grassnysels op my grasperk. Toe ek die grassnysels oplig het die slangetjie opgerol onder snysels gelê.

Die latynse naam vir die slangetjie is Duberria lutrix. Hulle is rooierig na koperig of olyfbruin in kleur en word 30 na 38 cm lank. Hulle lewe uitsluitlik op slakke en produseer 6 tot 12 lewendige kleintjies per slag.[1]

Verwysings

1. Animal Life In Southern Africa. Nasau Ltd. 1971. Bl. 294. ISBN 0-625-00199-0