Teleskoop Bou

Maak van 50-cm poleerlap

Tydens die maak van die 50-cm werktuig is gevind dat die werktuig van sement nie baie rond gekom het nie. Dit skep probleme met die vashou van die werktuig en daar is ook nie 'n presiese senter nie. Om 'n ronde sementbasis vir die piklap te maak is 'n ring uit hardbord gesny met 'n “router”.

Hieronder is fotos van die proses (kliek of die duimnaels):

 

Stap 1 – Gieting van basis

Die eerste stap is om die basis vir die lap te giet en dit te laat droog. In plaas van sement kan gips ook gebruik word. Die beste tyd om die basis te giet is na die P220 slypwerk voltooi is. Doen 'n mens dit nadat die fyn slypwerk voltooi is, loop 'n mens die risiko dat skrape veroorsaak kan word as die basis vanaf die spieël afgehaal word.

Die ring word uit hardbord met 'n “router” gesny. Die ring klaar gesny en geskuur. Om te verhoed dat die sementbasis die spieël krap is 2 lae waspapier reghoekig met mekaar op die spieël geplaas. Die onderste laag se waslagie is aan die spieël se kant en die boonste laag na bo aan die werktuig se kant. Ten spyte van 2 lae waspapier was daar 'n kort skraap op die spieël na afhaal van die sementbasis. Nog 'n probleem is dat die was op die waspapier aan die spieel bly sit. Sit 'n laag kleefplastiek op die spieël om dit te verhoed. Karton en karton kleeflint is weer gebruik om die sementvorm te maak. Die karton is daarna met stukkies kleeflint aan die hardehout ring vasgeplak.
Die sementvorm van onder gesien. Die sementbasis na gieting. Klein gewiggies is op die rant geplaas om die vorm plat te hou. Die sementbasis na 2 dae se droging.  

 

Stap 2 – Gieting en vorming van die pik

Hierdie deel van die proses kan eers gedoen word nadat die fyn slypwerk voltooi is.

 
'n Dun karton rant is aangebring rondom die basis. Die binnekant van die karton is met Vaseline gesmeer om vassit van die pik te verhoed/verminder. Smelt die pik stadig. Indien dit te vinnig verhit word sal lugborrels daarin vorm wat in die lap sal beland. Indien die suiwerheid van die pik onseker is kan dit deur 2 lae kaasdoek gegooi word om dit te filter. Maak die kaasdoek baie goed vas om die rant van die pot met 'n tou. Die pik moet goed warm wees daarvoor. Gooi pik by sodra omtrent die helfte deurgeloop het om te keer dat dit stol. Giet die pik vanaf die middel na die kante tot op die nodige dikte, ongeveer 6 mm. Indien dit 'n groot lap is wag 'n minuut of twee en giet dan 'n dun kroon in die middel van die lap. Sodra die pik styf genoeg is verwyder die karton rant. Gooi skottelgoed seep in water en maak beide die spieël en lap daarmee nat. Plaas die lap op die spieël en werk dit rond daarop. Lap kontak gaan heelwaarskynlik nie baie goed wees nie. Om die lap te help om die vorm van die spieël aan te neem word kanale daarin gesny. Dit help ook om die poleermiddel te versprei. Gebruik maskeerband 5 mm uitmekaar om die kanale uit te sit.
'n Mens kan 'n mes gebruik om die kanale te sny maar dit lei tot 'n groot gesukkel. 'n Kanaalsnyer soos hierbo maak dit egter baie maklik en dit werk soos 'n bom. Dit help om 'n hele bol op te bou van die stukkies wat uitgesny word met die kanaalsnyer. Die stukkies aan die snyer kan dan teen die bol gehou word en sal daaraan vassit en die snyer skoonmaak. Die lap nadat die kanale klaar gesny is. Die lap was redelik rof op die stadium aangesien die kroon te dik was en heelwat afgesny moes word. Ook is aanvanklik probeer om die kanale met 'n aluminium strook te maak maar dit het nie goed gewerk nie. 'n Platsnyer is handig om hoë plekke weg te sny. Dit kan ook gebruik word om lae plekke op te vul.
 
Om aanvanklik die lap in goeie kontak met die spieël te kry is dit nodig om die lap te verwarm. Een metode is om 'n dam van “duct tape” te maak maar die probleem is dat die hitte die “duct tape” laat inkrul en dit begin ook lek teen die kante. Nog 'n metode is om 'n elektriese verstroper te gebruik om die lap met die warm lug warm te maak. Op 'n groot lap werk dit nie so goed nie want die een kant koel af terwyl die ander kant warm gemaak word. Die lap kan ook in die son warm gemaak word deur dit tussen 2 stukke plastiek te plaas om te verhoed dat sand daaop gewaai word. Om die lap aanvanklik gevorm te kry op die spieël is 'n waterkan as gewig bo-op die lap geplaas. Dit kan vir baie ure so gelaat word indien genoeg water opgegooi word om 'n dam rondom die lap te vorm. Indien die lap uitdroog kan dit vassit. Wanneer die lap egter eers gevorm is, is dit nie raadsaam om soveel gewig op te sit nie aangesien dit die dun spieël kan buig wat dan in die lap ingedruk sal word. Indien die lap vir lang ure gevorm word behoort die lap se gewig alleen genoeg te wees. 'n Veilige manier om die lap los te kry indien dit gaan vassit op die spieël. 'n Houtblok word tussen die spieël en klamp ingesit om die spieël se rant te beskerm. Die idee is om die lap met die minimum klampkrag los te kry om skade aan die spieël en lap te verhoed. Draai die klamp net 'n bietjie aan en wag 'n klompie sekondes. As die lap nie begin beweeg nie draai die klamp nog 'n bietjie aan en wag weer 'n klompie sekondes. Indien die klampkrag genoeg is sal die lap na 'n klompie sekondes skielik losskiet.