Slypjoernaal

76-cm Reflektor Teleskoop Slypjoernaal 2009

Datum Tydsduur/
Totaal (minute)/
Totaal (ure)
Diepte
(mm)
Verskil
(mm)
Tempo
(mm/uur)
Notas
05-01-2009 60       Slyp 'n uur met 5 mikron om die waslagie van die waspapier te verwyder aangesien daar dalk 5 mikron poeier in die waslagie kan sit. Dit lyk of die skrapie wat die afskuif van die sementbasis veroorsaak het dalk kan uitslyp. Dus sal 'n uur of wat verder geslyp word om te sien of dit sal uitslyp. Indien nie sal dit gelaat word.
          Die 50 cm poleerlap is gegiet en daarna het dit baie tyd geneem om die lap in kontak te kry. Die sementbasis vir die 30 cm lap is ook gegiet en die lap gemaak. Daar is besluit om eerder die skraap wat die sementbasis veroorsaaak het uit te slyp. Omtrent 3 ure se slyp met P220 het die skraap verwyder. Die klein splinter in die spieël se rant het ook sodanig uitgeslyp sodat buite die optiese oppervlak is.
22-04-2009         Voltooi P220 slyp en maak skoon om met P400 te begin.
27-04-2009 120       2 of 3 ure is hier tussenin geslyp.
01-05-2009 120        
02-05-2009 120       P400 slyp voltooi. Maak skoon om met 12 mikron te begin.
04-05-2009 60       Begin met 12 mikron slyp. Oppervlak skoon van skrape. Vryf merke op rand soortgelyk aan “sleeks” wat 'n mens by poleering sien maar net wyer. Word dit veroorsaak deur te droë slyp of uitdroging van die rant?
06-05-2009 60        
07-05-2009 60        
09-05-2009 240       Na die eerste 2 ure se slypsessie was daar 'n lang ligte skraap parallel aan die spieël se rant en dus is dit veroorsaak deur die slypwerk en nie deur die opsit of afhaal van die werktuig nie. Na die 2de slypsessie het die skraap uitgeslyp.
23-05-2009         Maak skoon om met 5 mikron te begin.
25-05-2009 60       Begin 5 mikron slyp. Die slyp is duidelik nie sferies nie. Aanvanklik het die werktuig baie rukkerig beweeg en aan die einde is daar 'n groot kol in die middel van die werktuig wat nie kontak maak nie (lyk donkerder as res). Die rant het duidelik meer geslyp aangesien daar 'n 1 cm wye deel van die rant wat blink geslyp is.
26-05-2009 120       Die kol in die middel het met die helfte gekrimp. Duidelike ovaal kol waar die teëltjies donkerder lyk as die res. Daar bly ook meer poeier oor op daardie plek na die afhaal van die werktuig.
29-05-2009 120       Kol in werktuig middel effens kleiner.
30-05-2009 120       Donker kol op werktuig byna uitgeslyp. Weereens 'n ligte skraap op spieël! As ons gelukkig is sal dit uitslyp andersinds sal dit gelaat word.
01-06-2009 120       Donker kol op werktuig uitgeslyp asook ligte skraap op spieël.
02-06-2009 120       Die spieël is steeds skoon van enige skrape en daar is besluit om die fynslyp hier te beeindig en met polering te begin.
06-06-2009         Maak skoon om met polering te begin.
08-06-2009         Die middel katrol op die draaitafelas het 'n swak plek wat probleme begin gee het. 'n 6 mm aluminium plaat is op die katrol vasgeskroef om die probleem op te los. Begin polering maar baie gou het die karton spasieerders wat die spieël op plek hou uitgespring.
09-06-2009         Vervang die karton spasieerders met hardbord spasieerders en stelskroewe maar dit het ook baie gou tussen polering uitgespring.
10-06-2009         Vervang die hardbord spasieerders met aluminium spasieerders. Werk beter maar begin ook uitspring. Omtrent 10 minute se polering gedoen. Lap geneig om vas te gryp. Polering duidelik egalig dwarsoor spieël wat goeie nuus is. Hoe plekke op lap uitgesny.
11-06-2009         Begin nuwe aluminum spasieerders maak met rante aan die kante (U vorm) om te verhoed dat hulle uitspring. Twee klaar gekry.
?         Die spasieerders is klaargemaak en 'n uur se polering is gedoen. Dit het egter gewys dat die spieël nie sferies geslyp het nie want dit poleer net in die middel en op die rant. Daar is besluit om terug te keer na 5 mikron slypwerk. Toe die werktuig op die spieël geplaas is het dit egter 2 lelike skrape veroorsaak wat 'n terugkeer na P220 genoodsaak het om dit uit te haal. Daar is ook besluit om tussen P400 en 12 mikron, P600 te gebruik omrede die gaping tussen P400 en 12 mikron redelik groot is.
20-06-2009 240       Slyp met P220 om die 2 skrape uit te haal. Die een skraap is uitgehaal en daar het 'n klein gaatjie oorgebly van die ander een wat P400 behoort uit te haal.
21-06-2009         Maak skoon om met P400 slyp te begin.
27-06-2009 120       Was heel week net te koud in die garage om te slyp! Begin slyp met P400. Die klein gaatjie van die skraap lyk nou skielik redelik erg in vergelyking met die gaatjies wat P220 maak en daar is twyfel of P400 dit gaan uithaal. Die P220 slyp het ook een lelike skraap naby die rant gemaak.
28-06-2009 120       Ten spyte van die twyfel of P400 die gaatjie en skraap gaan uithaal is daar voortgegaan met die P400 slyp. Die gaatjie is minder. As 'n mens egter skuins in die lig daarna kyk dan lyk dit egter of die glas oor 'n wyer area gesplinter is wat redelik diep kan wees. Indien P400 dit nie uithaal nie sal dit gelaat word aangesien dit reg in die middel van die spieël is en dus geen invloed op die beeld sal he nie. Die P220 skraap het met die helfte verminder. Nog 2 na 4 ure behoort dit te verwyder.
30-06-2009         Meet die teëlwerktuig vanaf die senter teëltjie om te bepaal hoe simmetries die werktuig is. Op die een kant was van die buiteteëltjies amper 10 mm te lank, dus redelik onsimmetries en moontlik ook die rede hoekom die werktuig nie baie eweredig draai nie. Die buiteteëltjies wat te lank was is gemerk en met 'n hoekslyper weggeslyp tot op die vorige laag teëltjies ten einde die werktuig simmetries te kry. Die kruis wat die werktuig vashou is ook verstel om die werktuig in die rigting van die rye vas te hou sodat die werktuig gesenter is.
01/07/09 60       Aangesien die werktuig se senter verander het, het dit 'n krap op die rant veroorsaak aan die begin van die slyp. Dis nie baie erg nie en behoort uit te slyp. Die P220 skraap is bykans uitgeslyp.
04/07/09 120 3.55     Werktuig draai meer eweredig maar nog steeds nie heeltemal na my sin nie. Die splinter in die middel gaan hoogs waarskynlik nie uitslyp nie en dit sal gelaat word. Die P220 skraap het uitgeslyp. Die krap wat op 1 Julie veroorsaak is het bykans uitgeslyp. Daar is ook nog 'n paar klein gaatjies van die P220 oor. Weer 'n slag 'n sferometer meting geneem wat toon dat die radius nie verander het nie.
05/07/09 120       Werktuig draai maar nie lekker eweredig nie.
18-07-2009 180       Nie laasnaweek geslyp nie weens halwe griep simptome. Ook te koud daarna om te slyp. Soos vermoed trek die werktuig na dit 'n paar dae gelê het. Dis duidelik uit die rondspring van die slyparm en die werktuig wat hakkerig draai. Na 10 minute se slyp het die rondspring van die slyparm verdwyn en het die werktuig eweredig gedraai. Dit het ook weer 'n skraap veroorsaak op die rant. Om te verhoed dat die werktuig trek sal daagliks minstens 'n uur geslyp moet word om die spieël en werktuig in kontak te hou. Indien dit nie werk nie sal 'n dikker werktuig gemaak moet word maar dan sal heelwat van die spieël weggeslyp moet word om die werktuig weer in kontak te kry. Aangesien ons die spieël onnodig dunner wil maak nie word dit vir eers nie oorweeg nie.
19-07-2009 120       Die werktuig wil maar nie eweredig draai nie. Dis al of dit nie rond slyp nie. Daar is besluit om dit nie verder te waag met hierdie werktuig nie en 'n dikker een sal gemaak word. Dis twyfelagtig of die huidige werktuig ooit 'n suksesvolle slyp gaan teweeg bring veral omdat ons nou alreeds een keer daarmee gefaal het.
22-07-2009         Maak die vorm vir die nuwe werktuig wat 80 mm dik sal wees teenoor die ou een se 50 mm. Die dikte is gekies om nie die werktuig te swaar te maak nie.
23-07-2009         Giet sementbasis vir nuwe werktuig.
30-07-2009         Trek lyne op sementbasis vir posisie van die blokkies. Plak meer as helfte van blokkies.
31-07-2009         Plak res van vol blokkies.
02/08/09         Plak 16 halwe blokkies.