Genealogie program
Ek is tans besig om my ou MS-DOS genealogie program, Genea, na die Linux en Windows omgewing te skuif. Die vraag mag wees, hoekom 'n nuwe genealogie program begin terwyl daar deesdae baie genealogie programme soos Paf, Legacy ens. bestaan? Die meeste van die bestaande programme is deur die Mormone ontwikkel en dit dien hulle behoeftes wat nie noodwendig die behoeftes van die Suid-Afrikaanse genealogiese navorser aanspreek nie. Dit gebruik bv. nie die de Villiers nommeringstelsel nie. Die programme is geskryf om kwartierstate op te stel en is nie geskik om hele families soos bv. Smit, van der Merwe ens. te hanteer nie. Ook loop die programme slegs op die Windows platform. Dan is daar ook die koste aspek.
Genea is aanvanklik geskryf om 'n hele familie te hanteer wat die de Villiers nommeringstelsel gebruik. Die nuwe weergawes van Genea stel ten doel:
- Die bronkode sal oopbron kode wees en onder die GPL lisensie beskikbaar gestel word. Dit beteken die bronkode sal beskikbaar gestel word sodat enige iemand daarop sal kan voortbou of foute regmaak. Dit beteken ook dat die program verniet beskikbaar gestel sal word.
- Aangesien die program oopbron kode sal wees word dit met die Lazarus oopbron omwikkelingsomgewing geskep. Lazarus het die voordeel dat 'n mens bv. die program op Linux kan ontwikkel en dan bloot die kode kan oordra na Windows en dit dan te vertaal met die Windows weergawe van Lazarus en dan loop dit op Windows.
- Die program sal die oopbron Sqlite databasis gebruik.
- Die program sal op Linux, Windows en Mac kan loop.
- Families volgens die de Villiers nommeringstelsel kan hanteer.
- Stoor van doop, huweliks, grafskrif inligting.
- Skep van kwartierstate.
Aflaai
Genea kan hier afgelaai word.