386. NATUURLEER VIR SENIOR SERTIFIKAAT
Hierdie deel oor sterrekunde kom uit my vader se Natuurleer vir Senior Sertifikaat.[1] Op bl. 465 meld die teks dat die 200-duim teleskoop in Amerika al enige jare in aanbou was. Aangesien konstruksie aan die 200-duim Palomar teleskoop in 1936 begin het,[2] is die teks in die vroëe 1940's geskryf. Dus die sterrekunde daarin is natuurlik verouderd maar die basiese sterrekunde is steed geldig en dus 'n goeie begin vir die beginner. Daar benewens dien dit ook as historiese bewaring van die teks. Kopiereg behoort nie meer ter sprake te wees nie aangesien die teks nie meer in skole gebruik word nie.
DEEL V. STERREKUNDE.
HOOFSTUK XXXVIII.
SKYNBARE BEWEGING VAN DIE SON EN DIE STERRE.
ONTWIKKELING VAN DIE ASTRONOMIESE WETENSKAP.
Sterrekunde kan beskou word as die oudste wetenskap. In die lang verlede moes die mens noodgedwonge die hemelruim in die oog hou, daar hy geen horlosie of almanak gehad het nie. Hy het die afwisseling van die dag en nag waargeneem, die skyngestaltes van die maan, die fonkelende sterre, miskien 'n verduistering of ook 'n komeet, en het bepeins hoe die dinge plaasvind en wat hulle kon beteken. Hy het waarskynlik waargeneem dat in die koue winter die son laag in die lug was, selfs op die middag, en eers wanneer dit weer 'n seker hoogte bereik het, het die sneeu gesmelt, die sade ontkiem, en die sluimerende plante nuwe blare gekry. 'n Goeie oes, 'n aanval deur 'n vyandige stam, of enige buitengewone gebeurtenis wat saamgeval het met die verskyning van 'n helder ster, of gevolg het op 'n verduistering, sou verder daartoe bygedra het om hom te oortuig dat die hemelliggame 'n belangrike invloed op sy lewensloop gehad het.
So het die slimste manne van die Babiloniërs hul lewe gewy aan 'n studie van die uitspansel, sterrekaarte gemaak en al die veranderinge genoteer, om toekomstige aardse gebeurtenisse te kan voorspel. Skrifte wat teruggaan tot 3500 v.C. dui aan dat selfs toe reeds die sterre geruime tyd noukeurig waargeneem was. Die vyf "swerwende sterre", die planet Mercurius, Venus, Mars, Jupiter en Saturnus was bekend, asook die feit dat hul bane almal tussen dieselfde stergroepe gevolg het. Want deur op te let na die laaste helder sterre wat net voor die son opkom, het die ou Chaldeeuse skaapwagters waarskynlik al ontdek dat elke opvolgende oggend die sterre 'n bietjie op die son wen, en dat ander wat nader aan die son moes gewees het, sigbaar word. Met betrekking tot die sterre het hulle gevind dat die son ooswaarts beweeg oor 'n afstand van omtrent tweemaal sy middellyn per dag en die kringloop in 'n jaar voltooi.
Hoewel hul waarnemings so noukeurig was dat hulle die lengte van die jaar bepaal het met 'n fout van minder as twaalf minute, en met sekerheid verduisterings kon voorspel, is daar geen bewys dat die Babiloniërs enige teorie opgstel het om hul waarnemings te verklaar nie. Hulle astroloë het voorgegee dat uit 'n, studie van die sterre hulle kon voorspel wat die toekoms sou oplewer,