406. DIE AARDE SE SATELLIET, DIE MAAN
BETREKLIKE TYE VAN ONDERGANG VAN DIE SON EN MAAN.
Stel 'n lamp, gemonteerde aardbol, en 'n wit bal in posisie vir nuwe maan. Draai die aardbol stadig om sy as, en let op dat die lamp en die bal, wat die son en maan voorstel, gelyktydig oor die meridiaan van enige plek gaan. Beweeg die bal in dieselfde rigting waarin die aardbol omgedraai word, van wes na oos, (Vergelyk Fig. 294). Die son kom op en gaan onder voor die maan. Beweeg die bal in 'n hele sirkel om die aardbol, en let veral op die halfmaan-, volmaan-, en nuwemaan-posisies. Dit sal opgemerk word dat in die tweede helfte van die kringloop, wanneer die maan afneem na sekelvorm, dit voor die son opkom.
Die volgende behoort nou verstaanbaar te wees :---
- Wanneer die maan donker is, is die verligte halfrond van die aarde weggedraai. Dit kom op en gaan onder saam met die son en is onsigbaar. Daar hulle op dieselfde hemelmeridiaan is, word gesê dat son en maan in konjunksie (samestand) is.
- Na 'n paar dae kom die nuwe sekelvormige maan, weens sy oostelike beweging, na die son op. Weens die felle lig van die son is dit onsigbaar, maar bly in die lugruim vir die grootste deel van die dag. Met sononder is dit nog bokant die horison aan die weste, as 'n sekel met sy punte weggedraai van die son af.
- Elke dag kom die maan later op. In die tweede kwartier, wanneer dit 'n uitbultende vorm het, kom dit in namiddag op.
- Die volmaan kom op naastenby met sononder, en gaan onder teen sonop. Dit is reg teenoor die son, en die hele nag deur die lug sigbaar.
- Die afnemende maan, met uitbultende vorm, in die derde kwartier, kom op na sononder en gaan die volgende oggend in helder daglig onder.
- Elke nag kom die afnemende maan later op, totdat die dun maansekel, in die laaste kwartier, net voor die son in die oggendskemering sigbaar is. Kort na sonop word dit onsigbaar deur die skerp strale van die son. Dit gaan die son voor deur die lugruim, en, nog altoos onsigbaar, gaan dit voor die son onder.
Let op dat die groeiende halfmaan ses uur na die son oor die meridiaan gaan en die afnemende halfmaan ses uur voor die son.
AARDLIG OP DIE MAAN.
Probeer die dun maansekel in die lug kry so gou moontlik na donkermaan. Dit sal opgemerk word dat die donker deel van die maan sigbaar is en met 'n dowwe lig skyn.

Die fases van die aarde, soos vanaf die maan gesien, is altyd in die teenoorgestelde orde as dié van die maan vanaf die aarde gesien. Die donker deel van die maanskyf word swak verlig deur die lig van die aarde teruggekaats, daar dit vir 'n waarnemer op die maan byna "Volle-aarde" is, (Sien Fig. 296).
Van hierdie verskynsel word in die spreektaal gesê, "Die ou maan is in die arms van die nuwe maan."