408. DIE AARDE SE SATELLIET, DIE MAAN
as die son, sodat, as die son suid van die hemelewenaar is, die maan ten noorde daarvan is, en omgekeerd. Gedurende die wintermaande gaan die vollemaan dus hoog deur die lug.
VERDUISTERINGS.
Dit is alreeds onder Lig (bls. 65) bespreek. Daar die vlak van die maanbaan nie met dié van die ekliptika saamval nie, vind verduisterings van die maan deur die aarde nie met elke volmaan plaas nie, nòg verduisterings van die son deur die maan met elke nuwemaan. Die middelpunte van die liggame is nie noodwendig in 'n reguitlyn op hierdie tye nie. Die baan van die maan maak 'n hoek van omtrent 5° met die vlak van die ekliptika ; die twee punte waar dit die ekliptika sny, heet die knope. Dit is wanneer die maan by of na aan een van die knope is dat 'n verduistering plaasvind. Hierdie knooppunte het 'n agterwaartse beweging van omtrent 19½° per jaar, sodat verduisterings in dieselfde volgorde weer voorkom na 'n periode van iets oor die 18 jaar - die Saros-siklus. Die geheel verduisterde maan het 'n dowwe koperkleur, vanweë die rooi lig wat dit bereik na breking deur die onderste lae van die atmosfeer.
Die meeste verduisterings wat daar in 'n jaar kan wees is 7, waarvan òf 2 òf 3 maansverduisterings moet wees. Die minste is 2 wat albei sonsverduisterings moet wees.
ASWENTELING VAN DIE MAAN.
Terwyl die maan elke sterremaand sy baan om die aarde voltooi, draai dit ook een keer om sy as. Om diée rede is dieselfde sy van die maan altyd na die aarde gekeer. In werklikheid kan 'n bietjie meer as die helfte gesien word van die aarde af, maar 41 persent van die maan se oppervlak is vir ons onbekend.
Plaas 'n aardbol in die middel van 'n klein ronde tafel ; laat iemand om die tafel loop met sy gesig gedurig na die bol gekeer. Wanneer hy heeltemal rondom geloop het, het hyself ook een keer heeltemal omgedraai.
Dat die tydsduur van die maan se aswenteling presies saamval met sy omlooptyd om die aarde, is nie bloot toeval nie. Die gedagte bestaan dat in die verlede die maan 'n uiters vinnige aswenteling gehad het, en dat dit òf seë van sy eie gehad het, ò dat sy oppervlak in 'n halfvloeibare toestand verkeer het. Die groot aantrekkingskrag van die aarde sou dan enorme getye op die maan verwek, wat in die teenoorgestelde rigting van die aswenteling gevloei het. Weens die wrywing sou dit 'n geweldige remmende invloed uitoefen, wat eers baie vinnig, en later stadiger, die aswenteling van die maan teengewerk het, totdat dit, met betrekking tot die aarde, tot stilstand gekom het. 'n Dag op die maan stem dus ooreen met die sinodiese of maanmaand op die aarde, en gedurende helfte van hierdie tyd sou 'n waarnemer op die maan nie die son sien nie, daar dit anderkant die horison sou wees.
HOE DIE KORS VAN DIE MAAN DAARUIT SIEN.
Vir die blote oog lyk die maan soos 'n helder skyf met donker vlekke, sodat op die oppervlak van die vollemaan die vorm van 'n somber gesig kan uitgemaak word, "die man in die maan".
Die topografie van die maan vertoon die beste voordat dit vol is, wanneer die opgaande son die verskillende pieke en kraters duidelik laat uitstaan. Die opvallende trekke op die oppervlak van die maan is die kraters, en ronde kratervormige dinge met pieke in die middel, bergreekse, en uitgestrekte woestynvlaktes met meegaande rante ; groot splete of barste, en stelsels van uitstralende lyne of strep.
KRATERS EN KRATERVORMIGE VOORWERPE.
Die grootste van die kratervormige voorwerpe is die ringberge of walvlaktes, waarvan Copernicus, met 'n middellyn van meer as vyftig myl, die vernaamste voorbeeld is.