409. DIE AARDE SE SATELLIET, DIE MAAN
Hulle lyk soos vuurspuwende berge, hoewel hulle in baie opsigte van dié op die aarde verskil. Die omringende mure loop met verdrag op van die vlakte rondom, maar aan die binnekant staan hulle byna loodreg op die vloer. Hierdie skanswalle is in baie gevalle erg ru en ook self hier en daar beslaan met hoë bergkruine en met gapende skeure deurkloof. Langs die buitenste hange word soms klein kraters aangetref. Gewoonlik is daar een of meer pieke in die middel van die kratervloer. Hierdie omringde berge verrys dikwels tot 'n hoogte van vyf of ses duisend voet.
Op die oppervlak van die maan is daar duisende kleiner kraters, baie waarvan minder as 'n halfmyl in deursnit is. Hulle gelyk baie op aardse vulkane.
Daar is taamlike eenstemmigheid dat hierdie kraters ontstaan het deur geweldige vulkaniese uitbarstings of deur die ontsnapping van gas of stoom in groot blase in die stollende kors van die pas-gevormde maan. Die instorting van so 'n blaas sou 'n sirkelvormige rant agterlaat. Baie van hierdie kraters is van vyf tot twintig myl in middellyn, met 'n omringende muur wat duisende voet verrys. Die voorstanders van die vulkaanteorie beweer dat die geringe swaartekrag op die maan en die lae soortlike gewig van sy boustof die vorming van groot kraters moontlik maak. Soortgelyke formasies op die aarde so lankal verdwyn het, weens die natuurlike neiging van die atmosfeer om deur denudasie, reën, ryp, ens., en chemiese verwering alles gelyk te maak.
BERGREEKSE.
Die berge van die maan is ru getand en steil en vorm dikwels reekse honderde myl lank. Die Apennyn-gebergtes van die maan is vier honderd myl lank met duisende bergpieke. 'n Ander indrukwekkende reeks is die Alpe van die maan. In hierdie en in ander bergreekse is daar alleenstaande pieke wat tot 'n hoogte van 25,000 voet verrys. Hierdie berge het waarskynlik ontstaan deurdat afkoeling van die stollende kors die oppervlak verrimpel het. 'n Bombardement deur meteore mag ook bygedra het om die maangebergtes hul ru vorm te gee.
DIE WOESTYNVLAKTES OF "SEË."
Die oppervlak van die maan bestaan grotendeels uit uitgestrekte plat woestynvlaktes. Galileï het gemeen dat hierdie laagliggende donker vlekke seë was. Aan hierdie seë is allerhande poëtiese name gegee, "Mare Imbrium" (Die See van Reënbuie), "Mare Serenitatis", "Mare Tranquillitatis", ens. Hulle is honderde myle in omvang, en hul oppervlakte wemel van bulte en laagtes. Hierdie sogenaamde seë is in werklikheid droë woestyne, wat waarskynlik uit donker lawa en vulkaniese as bestaan. Hulle gaan altyd vergesel van lae rante of voue wat soms ewewydig met die grense loop en vir lang afstande deur die vlaktes peil.
SPLETE OF BARSTE.
In die oppervlak van die maan is daar diep skeure wat vir myle aaneen deur vlaktes en berge sny. Hulle het moontlik ontstaan deur inkrimping van die plastiese oppervlak toe dit gestol het.