410. DIE AARDE SE SATELLIET, DIE MAAN.
UITSTRALENDE STREPE.
Hierdie helder strepe straal van party van die grootste kraters weg. Hulle word veral opgemerk tydens volmaan, en kan vir honderde myle oor vlakte en berg waargeneem word. Hulle werp geen skaduwees nie, en is dus nie bokant die oppervlak verhewe nie. Die gedagte is geopper dat hulle aandui waar daar barste langs gegaan het, wat later volgestoot is met liggekleurde lawa. Volgens 'n ander teorie mag hulle neerslae van sou wees van die voormalige oseane afkomstig.
TOESTANDE OP DIE MAAN.
Geen dampkring. Weens die geringe swaartekrag het die maan sy atmosfeer verloor. Die biljoene molekule van die oorspronklike atmosfeer het as gevolg van hul kinetiese energie buite die aantrekkende krag van die maan geraak en afgedwaal in die ruimte. Die afwesigheid van enige aanmerklike dampkring blyk uit die volgende:
(i) As ons die maan in die oog hou wanneer dit voor 'n ster kom, d.w.s. by 'n okkultasie, verdwyn die ster skielik. As die maan enige dampkring gehad het, sou ligstrale van die ster, soos dit nader kom, geleidelik deur die atmosfeer van die maan gebreek word, en die ster sou dowwer word, totdat dit onsigbaar is.
(ii) Die kant van die maan is helder en skerp. 'n Dampkring sou dit dynserig laat voorkom.
Geen water. Daar die maan geen dampkring het nie, moet dit ook geheel sonder water wees. Water sou vinnig verdamp, en die molekule sou in die ruimte ontsnap. Daar kan geen wolke, seë, riviere of mere wees nie.
Geen lewende organismes. Die selle van alle lewende dinge op aarde het water en suurstof nodig (hoewel party bakterieë daarsonder kan klaarkom). Daar dié stowwe op die maan ontbreek, kan dit niks anders wees nie as 'n dorre, harde woestynwêreld, sonder enige tekens van lewe.
Geen sagte kleure. Daar is geen atmosfeer om die kort ligstrale te verstrooi nie. Die lug sal dus nie blou lyk nie, maak pikswart, met tallose sterre sigbaar selfs wanneer die son skyn. Daar is geen skemerlig en geen rooi of oranje tinte met die opkom van die son nie. Die son skyn met 'n witter lig as op die aarde en, onmiddellik as dit ondergaan, word dit skielik donker.
Geen geluide. Op die maan heers 'n doodse stilte, want geluidsgolwe word hoofsaaklike deur die lug voortgeplant. Iemand sou vergeefs hoop op 'n koel luggie, en gierende windstorms is ook onbekend.
Bestoking van meteore. Meteore wat uit steen of metaalagtige stof bestaan, tref gedurig die oppervlak, daar dit geen atmosfeer het om hul geweldige spoed deur wrywing te vertraag en hulle as stof te verstrooi nie.
Temperatuurspeling op die maan. Die maan is blootgestel aan die strale van die son vir 'n tydperk van veertien van ons dae. Vroeg in die namiddag is die temperatuur reeds goed bokant die kookpunt van water. Maar hoewel daar geen dampkring is om die strale van die son teen te hou nie, is daar ook geen wolke om stralende warmte terug te kaats na die oppervlak van die maan, en geen waterdamp om soos 'n kombers die warmte in te hou nie. Wanneer die son ondergaan, val die temperatuur skielik tot omtrent 250°F., benede die vriespunt van water, want die oppervlak, wat waarskynlik uit lawa en vulkaan-as bestaan, word gedurende die dag tot 'n diepte van minder as 'n duim verhit. Die uitstraling vind so vinnig plaas dat gedurende 'n verduistering van die maan dit waargeneem is dat die temperatuur binne 'n paar minute van 194°F. tot 152°F. val.
Die uitspansel gesien van die maan. Die sterre en planete vertoon net soos van die aarde, maar die sterre skyn egalig deur uit die swart lug sonder om te flikker en is sigbaar gedurende die maan se lang dag. Die aarde is 'n pragtige skouspek, daar dit dertien maal so groot lyk as die maan vir ons (d.w.s. die oppervlak van sy skyf).