427. SATURNUS
Satelliete.
In 1610, kort na die uitvinding van die teleskoop, het Galileï ontdek dat Jupiter vier mane besit. Die satelliete kan deur 'n verkyker van lae vergroting waargeneem word. Hul posisies verskil van uur tot uur. Hulle kan almal aan eenkant van die ouerlike planeet gesien word, of daar kan een aan die ooste en drie aan die weste van die skyf wees, of die verdeling kan twee aan elke kant wees. Een of meer kan in oorgang wees teen die skyf van Jupiter. In Fig. 308 kan die donker skadubeeld van 'n satelliet wat voor die reuseplaneet verbygaan, gesien word. Op ander tye mag een of meer van die satelliete geokkulteer wees, d.w.s. aan die ander kant van die skyf, en dus daardeur bedek, of verduister, d.w.s. onsigbaar in sy skaduwee. Jupiter en sy satelliete vertoon soos 'n nabootsing van die sonstelsel op klein skaal. Die satelliete lê byna in 'n reguitlyn met die ouerlike planeet.
Twee is groter en twee effens kleiner as ons maan. Daar is ook nog vyf kleiner satelliete, wat net in 'n sterk teleskoop sigbaar is, daar die middellyn van die grootste nie meer is as 100 myl nie. Die jongste aanduidings het sterrekundiges gelei om die bestaan van 'n tiende een te vermoed.
Die snelheid van lig is vir die eerste keer in 1675 bepaal deur waarnemings van die verduisterings van die satelliete (Sien Lig, bls. 66).
Weens sy groot massa het Jupiter komete uit hul bane getrek en hulle gedwing om elliptiese bane te volg wat byna sirkelvormig is, sodat hulle komete van kort in plaas van lang omlooptye geword het.
SATURNUS.
Op 'n baan byna tweemaal Jupiter se afstand van die son is die planeet Saturnus. Hoewel gewoonlik die dofste van die planete sigbaar met die blote oog, vertoon dit gewoonlik as 'n ster van die eerste orde van helderheid, en skyn met 'n lig-geel glans sonder enige flikkering. Dit verander maar stadig van plek tussen die sterre.
BEWEGINGS VAN DIE PLANEET IN SY BAAN.
Saturnus is ongeveer 886 miljoen myl van die son verwyder. Dit voltooi sy omloop in 29.46 jaar, teen 'n spoed van ses myl per sekonde. Op sy naaste aan die aarde is dit 800 miljoen myl verwyder, omtrent tweemaal sover as Jupiter. 'n Waarneming van die wit vlekke wat nou en dan op die oppervlak van die planeet te voorskyn kom, het dit moontlik gemaak om die duur van sy aswenteling vas te stel as 10.25 uur, by die ewenaar. Die planeet kom daarin met Jupiter ooreen dat die tyd vir een aswenteling, in die reël, die kortste is in die buurt van die ewenaar.
...