Begin | Vorige | Volgende

390. SKYNBARE BEWEGING VAN DIE STERRE

SKYNBARE BEWEGINGS VAN DIE SON

1. Daelikse beweging

Die skynbare daelikse beweging van die son is dieselfde as dié van enige ster wat dieselfde plek op die hemelbol inneem. Dit lyk asof dit elke dag aan die oostekant opkom, sy hoogtepunt op die middag bereik, en by die gesigseinder aan die westekant ondergaan. Wanneer die son op sy hoogste punt is, dan is dit reg noord (Sien Fig. 282), en dit is op die meridiaan van die waarnemer. Die tydsverloop tussen twee opeenvolgende oorgange van die son, oor die meridiaan, heet 'n sonnedag.

2. Verandering van die middaghoogte van die son

(i) Wanneer die son op die hemelewenaar is, kom dit reg oos op en gaan reg wes onder. Dit gebeur met die lente-nagewening, op ongeveer 22 September.

 

(ii) Met dat die lente oorgaan in somer, kom die son elke dag verder na die suide van oos op, totdat dit op die middag van die langste dag, om en by 21 Desember, sy hoogste punt in die hemelruim bereik. Op dié punt is sy hoekafstand van die posisie wat dit op die middag inneem, wanneer dit op die hemelewenaar is, 23½°. Dit heet die somer-sonnestilstand, wanneer dit lyk asof die son in sy noord-suid-beweging tot stilstand gekom het. 'n Paar dae agtereen skyn die son dieselfde pad deur die lug te volg, waar dit nou na die noorde begin teruggaan, nader aan die hemelewenaar.

Begin | Vorige | Volgende