389. DIE SKYNBARE DAAGLIKSE BEWEGING VAN DIE STERRE
Die sterre wat feitlik reguit bane op 'n fotografiese plaat laat, is na aan die Hemelewenaar, 'n denkbeeldige sirkel op die hemelbol halfpad tussen die pole.
Die vlak van die hemelewenaar gaan deur die oos- en die wespunte van die horison. Vir 'n waarnemer op die aarde se ewenaar sal die noord- en die suid-hemelpool op die horison lê, terwyl vir iemand by die aarde se suidpool al die sterre skynbaar om die pool, regbo, beweeg in volmaakte konsentriese sirkels wat uitsprei tot aan die horison.
Vir 'n waarnemer by enige plek P, op die aarde, is die hoogtehoek van die hemelpool gelyk aan die breedtegraad van dié plek. Die hoogte van die suid-hemelpool van enige plek na aan die kus tussen Kaapstad en Oos-Londen is naastenby 34°. Fig. 281 toon die daelikse sirkelbane van die sterre op die hemelbol in verhouding tot die horison vir die plekke op breedtegraad 34° Suid. Die waarnemer word voorgestel by die middel van 'n vlak wat tot aan die horison uitstrek. Die hoogte van die hemelewenaar word aangegee deur (90° - 34°) of 56°.

| 1. | Sterre binne die gebied A gaan nooit onder vir die waarnemer op die aangeduide plek nie. Hulle is die Ompoolse sterre vir daardie breedtegraad. Deur op te let, kan hulle gedurende die loop van die jaar in elke deel van hul bane gesien word. As ons die tyd presies noteer wanneer 'n ster opkom of 'n bepaalde plek in die lug inneem, sal ons vind dat dit op die volgende aand omtrent net vier minute eerder weer in daardie selfde posisie sal wees. (Sien bls. 400.) Die Suiderkruis raak net die horison in breedegraad 34° Suid, (Sien Sterrekaarte). Let op hoe dit byna reguit na die pool wys. Dit verklaar waarom die Kruis op dieselfde uur in verskillende tye van die jaar, regop, op sy kant of onderstebo kan gesien word. Die helderste ster α Crucis is altyd naaste aan die pool. | |||||||||
| 2. |
Sterre binne die gebied B kom op en gaan onder. Dié wat naby die hemelewenaar is (b.v. konstellasie Orion), sal vir ses maande van die jaar vir die waarnemer sigbaar wees ; gedurende die ander helfte deurreis hulle die lug in die dag.
|
|||||||||
| 3. | Sterre binne die gebied C is nooit sigbaar in streke verder suid as breedtegraad 34° Suid nie. |