400. DIE PLEK VAN DIE AARDE IN DIE SONSTELSEL
(a) Dit sal uit Fig. 290 duidelik wees dat die hoeveelheid warmte per oppervlakte-eenheid ontvang, in gelyke tydsduur meer is in die somer as in die winter.
(b) Wanneer die sonstrale skuins op die oppervlakte van die aarde inval, soos in die winter, vind terugkaatsing makliker plaas, sodat die aarde minder warmte absorbeer. Boonop, voordat hulle die aarde tref, moet die sonstrale, wanneer hulle skuins inval, deur 'n groter luglaag gaan, wat hulle absorbeer, breek en terugkaarts.
DIE STERRE WAT SNAGS SIGBAAR IS VERANDER MET DIE JAARGETYE.
Dié verskynsel staan in verband met die skynbare oostelike beweging van die son tussen die sterre wanneer dit, gedurende die loop van die jaar, die verskillende sterrebeelde van die diereriem besoek. Die tyd wat 'n afgeleë liggaam soos 'n vaste

ster nodig het om met opeenvolgende dae die meridiaan van enige plek te bereik, sal korter wees as die tyd wat die son neem. Terwyl die aarde om sy as draai, beweeg dit ook om die son in dieselfde rigting. 'n Volledige aswenteling van die aarde bring die afgeleë ster weer oor die meridiaan, maar die aarde sal nog verder deur die hoek a moet draai voordat die son dié posisie bereik (Fig. 291). Die aarde moet dus deur meer as 360° draai om die sonnedag van 24 uur te voltooi. Die tyd, soos bepaal met betrekking tot 'n vaste ster, wat die aarde nodig het vir 'n volledige aswenteling, heet die sterredag, en duur 23 uur en 56 minute. Daar die aarde van wes na oos draai, wen die sterre elke dag vier minute op die son in hul skynbare bewegings van oos na wes.
Fig. 292 stel die aarde voor in sy baan om die son, waar dit in die vlak van die ekliptika beweeg. Die ekliptika lê om die hemelbol, waarteen die sterre skynbaar vassit. Op die ekliptika word die benaderde posisies van die sodiakale konstellasies aangedui.