401. DIE PLEK VAN DIE AARDE IN DIE SONSTELSEL

Wanneer dit somer is in die suidelike halfrond, is die aarde in stand A van Fig. 289 ; die konstellasies in die buurt van Gemini is gedurende die nag sigbaar. Die sterre na die kant van Saggitarius is onsigbaar, daar die son die lug in daardie rigting verlig. Dit word gesê dat die son die konstellasie van Sagitarrius gedurende die middel van Desember besoek. Hierdie konstellasie sal van beide noordelike en suidelike halfronde onsigbaar wees, terwyl Gemini teen middernag hoog in die noordelike lug sal staan. Die prominente konstellasie, Orion, kan na die suidwestekant van Gemini gesien word. Met die oorgang van somer na herfs, en die ooswaartse beweging van die son langs die ekliptika, beweeg hierdie konstellasies na die weste ; teen Junie is hulle snags al goed onderkant die horison, en die indrukwekkende konstellasie Scorpio is prominent in die winter-hemelruim. Elke maand besoek die son een van die tekens van die diereriem ; 'n mens kan dus vasstel watter konstellasies gedurende die verskillende maande van die jaar sigbaar sal wees.