402. DIE PLEK VAN DIE AARDE IN DIE SONSTELSEL
Let op dat die sterre rondom die noord-hemelpool ten alle tye onsigbaar sal wees vir waarnemers in die suidelike halfrond, en vice versa. (Sien sterrekaart, bls. 467 en vergelyk Fig. 281.)
DIE AARDE PLATTER BY DIE POLE WEENS SY ASWENTELING
Weens die wenteling van die aarde om sy as beweeg liggame by die ewenaar met 'n spoed van meer as 1,000 myl per uur. Die middelpunt-vlietende krag, deur die rotasie verwek, het die neiging om liggame van die oppervlak weg te slinger. By die ewenaar is dié krag, wat eweredig is met die vierkant van die snelheid, op sy grootste. Liggame weeg minste by die ewenaar.
Met die aarde nog in 'n half-vloeibare toestand sou die middelpunt-vlietende krag 'n uitbulting veroorsaak weens die neiging van plastiese materiaal om weg te trek in die ruimte.
Dié uitbulting maak egter 'n verskil van net 27 myl tussen die middellyn by die pole en dié by die ewenaar van die aarde, maar in die geval van Jupiter en Saturnus is dit baie opvallender. Die snelle aswenteling van hierdie planete het hulle by die pole aanmerklik plat laat word.
MASSA EN SOORTGELYKE GEWIG VAN DIE AARDE
Metodes om die massa van die aarde te bepaal, berus op Newton se Wet van die Swaartekrag. Die massa kan bepaal word deur die krag te meet waarmee 'n berg die bolgewig van 'n skietlood aantrek ; ook deur die verandering in die gewig van 'n liggaam te vind as 'n groot massa lood daaronder geplaas word, en deur ander metodes wat op die beginsels van toegepaste meganika berus.
As uitvloeisel van verskeie eksperimente word die massa van die aarde aangegee as 6,000 miljoen miljoen miljoen ton, d.w.s., 6 x 1021 ton, en sy soortlike gewig as 5.52.
SAMESTELLING VAN DIE AARDE
Daar die soortlike gewig van die gesteentes aan die oppervlak ongeveer 3 is, moet dié van die binneste aansienlike groter wees. Die temperatuur neem met die diepte toe teen gemiddeld een graad Fahrenheit elke sestig voet. Dit word beskou dat die kern van tot 'n straalafstand van 2,000 myl uit gesmelte yster bestaan vermeng met nikkel, van gelyksoortige samestelling as die ystermeteoriete wat op die aarde geval het. Die metaalkern gaan geleidelik oor in vaste rotslae met hoë metaalinhoud. Hierbuite sou ons die vuurgesteentes of stolrotse soos graniet verwag, en dan 'n dun laag sedimentêre gesteentes soos lei- en sandsteen, wat uit die stolrotse ontstaan het, waar hulle onder invloed van verskeie atmosferiese faktore verweer en weggevoer word. Die aardkors, bestaande uit dieselfde soort gesteentes wat op die oppervlak aangetref word, het ongeveer 'n dikte van dertig tot veertig myl. Die afstand van die middelpunt van die aarde tot aan die oppervlak is ongeveer 4,000 myl.