391. SKYNBARE BEWEGING VAN DIE SON
(iii) Die son beweeg na die noorde en is weer op die hemelewenaar op ongeveer 21 Maart, die herfs-nagewening.
(iv) Die son gaan nog voortdurend in 'n noordelike rigting en kom elke dag verder na die noorde van oos op, totdat op die middag van die kortste dag, om en by 21 Junie, dit 23½° noord van die hemelewenaar is. Dit is nou die winter-sonnestilstand, waarna dit lyk of die son weer na die suide beweeg.
3. Die skynbare oostwaartse beweging van die son tussen die sterre.
Elke opeenvolgende aand is die konstellasies in die weste 'n klein bietjie nader aan die horison. Sterre wat nou na sononder sigbaar is, word dowwer en verdwyn na 'n paar weke in die gloed

van die westerse hemel, net asof in die wedren tussen die sterre en die son, van oos na wes, laasgenoemde elke aand 'n klein bietjie agter is, sodat na verloop van 'n jaar die sterre 'n hele omwenteling op die son wen. Deur noukeurig gedurende die jaar op te let, net na sononder of voor sonop, kan 'n mens vasstel na watter konstellasies, of uit watter konstellasies die son skynbaar aan die beweeg is. Die pad wat dit tussen die konstellasies deur volg, is elke jaar dieselfde en word genoem die Ekliptika.
Hierdie jaarlikse oostwaartse beweging moet nie verwar word nie met die daelikse skynbare beweging van die son van oos na wes, wat dag en nag veroorsaak. Die ekliptika (Sien Fig. 283) maak 'n hoek van 23½° met die hemelewenaar, omdat die son in sy klimming en daling in die lug, met die jaargetye, so beweeg dat dit (i) in die middel van die somer 23½° suid van die ewenaar is, (ii) in die middel van die winter 23½° noord van die ewenaar is, (iii) met die ewenagte (as dag en nag ewe lank is) op die ewenaar is.
Onthou dat die son elke dag van die jaar 'n sirkel* op die hemelbol beskryf, ewewydig met die vlak van die ewenaar, (Sien Fig. 282).