Begin | Vorige | Volgende

393. ONTWIKKELING VAN DIE ASTRONOMIESE WETENSKAP

Met behulp van die volgende rympie kan die tekens maklik in die korrekte volgorde onthou word:

Die Ram, die Stier, die Tweeling-paar, En naas die Kreef is die Leeu daar, Die Maagd en ook die Skaal, Skerpioen, Boogskutter, Steenbok, dan, Acquarius die Waterman, En Visse wat rondom dwaal.

Die Klassieke name vir die tekens van die diereriem is:

Aries (Die Ram) Libra (Die Weegskaal)
Taurus (Die Stier) Scorpio (Die Skerpioen)
Gemini (Die Tweeling) Sagittarius (Die Boogskutter)
Cancer (Die Kreef) Capricornus (Die Steenbok)
Leo (Die Leeu) Acquarius (Die Waterman)
Virgo (Die Maagd) Pisces (Die Visse)

OPKOMS VAN DIE ASTRONOMIESE WETENSKAP

So 'n studie van die skynbare bewegings van die son en die sterre is tot groot hulp as ons hul plekke in die hemelruim kan vasstel. Al is dit die aarde wat beweeg, kan met volkome juistheid beweer word dat hulle, met betrekking tot ons, bewegings uitvoer. Dit verklaar waarom die volke van die Oudheid, wat almal die aarde as 'n plat skyf beskou het, reg in die middel van die heelal, tog in staat was om 'n idee te vorm van die beweging van die hemelliggame, en opvolgende jare in kalenders kon aanteken.

Aristarchus

Aristachus (c. 250 v.C., Griekeland) het die teorie voorgestel dat die son die sentrale liggaam was waar die aarde en die planete om gedraai het. Hy was dus Copernicus voor met byna agtien honderd jaar, maar die idee is indertyd beskou as te fantasties.

Hipparchus

Hipparchus (c. 130 v.C., Klein-Asië) word beskou as die grootste sterrekundige van die Oudheid. Hy het, met 'n merkwaardige mate van akkuraatheid, onder meer bepaal die inklinasiehoek tussen die ekliptika en die ewenaar.

Ptolemeus

Ptolemeus (c. 140 A.D., Egipte) het die heersende opvatting dat die aarde die middelpunt van die heelal was, redelik voorgestel deur 'n uiters vernuftige en ingewikkelde redenering, tot vandag toe nog bekend as die Ptolemeiese Stelsel van Sirkels en BySirkels. Volgens hierdie teorie beweeg nie net die maan nie, maar ook die son in 'n sirkelbaan om die aarde.

Alle vooruitgang op sterrekundige gebied het tot 'n einde geloop met die dood van Ptolemeus, en dié het deur die middeleeue heen 'n ereplaas behou, omdat dit skynbaar in ooreenstemming was met die waargenome verskynsels. Ween sy vernuftigheid het dit byval gevind by die verstandelik ontwikkeldes, en dit was nie strydig met die beskouings van die kerk nie.

Copernicus

Copernicus (1473 - 1543, Pole) was 'n monnik wat, behalwe dat hy 'n dokter in die medisyne was, ook matesis en sterrekunde ywerig bestudeer het. Deur waarnemings, met sorgvuldige oorleg uitgevoer, kon hy afdoende bewys lewer dat (i) die daelikse bewegings van die hemelliggame toe te skryf is aan die omwenteling van die aarde om sy as, (ii) die middelpunt waarom die planete draai, die son is en nie die aarde nie.

Galileï

Galileï (1564 - 1642, Italië) het in 1608 te hore gekom van 'n rangskikking van lense, toevallig ontdek deur Hans Lippershey, 'n brillemaker te Middelburg in Holland. Deur middel hiervan, so is beweer, kon 'n afgeleë voorwerp nader getrek word aan die waarnemer. Galileï het te werk gegaan ; en toe sy verkyker klaar was, het hy dit met goeie gevolg gebruik. Hy het vlekke op die son gesien en berge op die maan. Hy het gesien dat die planeet Venus, net soos ons maan, 'n sekelvorm kon aanneem, en dat die groot planeet Jupiter skynbaar vier mane het wat daar om draai. Dit was 'n ernstige teëslag vir die Ptolemeïse opvatting dat die aarde die middelpunt van die heelal is. Galileï, het openlik verkondig dat hy met die Coperniese leer akkoord gaan, en het die toorn van die inkwisisie op sy hoof gehaal.

Begin | Vorige | Volgende