Begin | Vorige | Volgende

394. OPKOMS VAN DIE ASTRONOMIESE WETENSKAP

Kepler

Kepler (1571 - 1630, Boheme en Duitsland) het gedurende die jare 1607 - 1620 met moeite al die beskikbare gegewens, baie waarvan deur Tycho Brahe (1546 - 1601, Denemarke) versamel is, probeer koördineer om reëls te kan opstel aangaande die beweging van die planete in hul bane. Dit was eers na jare van onvermoeide arbeid dat dit vir hom duidelik geword het dat die bewegings van die planete verklaar kon word deur aan te neem dat die baan van elkeen 'n ellips is, en nie 'n sirkel nie.

Fig. 285. Om 'n ellips te trek met behulp van 'n garedraad. Waar die spelde steek, is die brandpunte van die ellips ; hoe nader aan mekaar die brandpunte is, hoe meer neig die ellips na 'n sirkel. Kepler het drie wette opgestel om rekenskap te gee van die beweging van al die planete en het dus 'n verband gevind tussen die lede van die sonstelsel.

Kepler se wette.

  1. Elke planeet beweeg in 'n elliptiese baan om die son, waarvan die middelpunt in een van die brandpunte van die ellips is. (Let op dat verskeie van die bane, veral dié van Venus en aarde, baie min van 'n sirkel afwyk.)
  2. Die spoed van 'n planeet in sy baan wissel op so 'n manier dat die reguitlyn wat dit met die son verbind, oor gelyke oppervlaktes in gelyke tye beweeg. (Die spoed van die planeet is dus die grootste wanneer dit die naaste aan die son is.)
  3. Die kwadrate van die omlooptye van die planete is in dieselfde verhouding as die derdemagte van hulle gemiddelde afstande van die son. (Met die benaderde waardes op bls. 398 vir Jupiter en die aarde vind ons dat 483³:93³ = 11.86²:1² feitlik.)

Dié wette, soos deur Kepler opgestel, was bloot empiries ; hulle was in ooreenstemming met al die waargenome verskynsels, maar die bewys van hul volstrekte en ewigdurende waarheid het nog uitgebly. Kepler kon geen rede aangee waarom die wette gehoorsaam moes word nie ; hy kon alleenlik beslis sê dat hulle wel gehoorsaam word.

Newton

Newton (1642 - 1727, Engeland) het die Wet van die Swaartekrag ontdek, wat lui: Elke liggaam in die heelal trek elke ander liggaam aan met 'n krag omgekeerd eweredig met die kwadraat van die afstand en direk eweredig met die produk van hul massas. Hierdie ontdekking is een van die belangrikste intellektuele prestasies van alle tye. Deur matematiese beredenering het Newton aangetoon dat die drie wette van Kepler die noodsaaklike uitvloeisel was van die alom-geldige swaartekrag. Nie alleen het die wet die oplossing vir baie astronomiese raaisels gebring nie, maar dit het ook die matematikus gelei om die bestaan van hemelliggame te vermoed en hul werklike ontdekking vooruit te loop. (Sien ontdekking van Neptunus).

Die vraag ontstaan natuurlik waarom, as die hemelliggame mekaar aantrek, hulle nie met toenemende snelheid na mekaar beweeg en in mekaar loop nie. Waarom val die maan nie na die aarde toe nie? Waarom word die planete nie deur die geweldige aantrekkingskrag van die son ingetrek en verbrand nie? Die antwoord is dat die planete met sulke groot snelhede beweeg dat hulle in die ruimte sou wegpeil en nooit weer terugkeer indien die aantrekkingskrag van die son hulle nie terughou nie, net soos 'n klip wat aan 'n lyn vinnig

Begin | Vorige | Volgende