396. DIE PLEK VAN DIE AARDE IN DIE SONSTELSEL
DIE PLANETE.
Die aarde is een van 'n familie hemelliggame waarvan die bewegings in hul bane hoofsaaklik beheers word deur die son, waarom hulle draai. Die volke van die Oudheid was bewus daarvan dat die planete tussen die sterre beweeg (Latyn Planeta, 'n Swerwer).
Die volgend oorwegings help om vas te stel of 'n hemelliggaam 'n planeet of 'n ster is.
| PLANETE | STERRE |
|---|---|
| 1. As 'n planeet een nag met die ander waargeneem word, blyk dat dit met betrekking tot ander planete en die vaste sterre van plek verwissel. | Sterre behou hul relatiewe posisies in die lug. |
| 2. Planete word nooit ver van die ekliptika aangetrek nie. | Sterre is in enige deel van die hemelbol aanwesig. |
| 3. Planete skyn egaal deur behalwe as hulle na aan die horison is. | Sterre flikker onophoudelik. |
| 4. Planete vertoon skywe in 'n teleskoop en planete binne die aardbaan vertoon fases. | Sterre lyk soos ligpuntjies selfs in die sterkste teleskope. |
Die uitstaande werklike verskille tussen sterre en planete is:
| PLANETE | STERRE |
|---|---|
| 1. Planete, die aarde uitgesluit, is uitwendig koud en skyn tengevolge van die sonlig wat hulle terugkaats. | Sterre, ons son ingesluit, is gloeiende liggame wat hul eie lig en warmte uitstraal. |
| 2. Al die bekende planete is betreklik naby en draai om ons son, wat 'n gewone ster is. | Sterre is sonne, selfs die naaste waarvan biljoene myl ver is, sodat hul afstande in ligjare bereken word. (Sien bls. 448.) |
Let op dat die maan nie onder die definisie van "planeet" val nie, daar dit in die eerste plek om die aarde draai, waarvan dit 'n satelliet is. Ander planete het ook hul mane of satelliete. (Soms word so 'n maan 'n byplaneet genoem.)
BETREKLIKE GROOTTES VAN LEDE VAN DIE SONSTELSEL EN POSISIES VAN HUL BANE.
Die planete, gerangskik volgens hul afstande van die son, is Mercurius, Venus, Die Aarde, Mars, die Asteroïede (ook genoem planetoïede of klein planete), Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunus, Pluto*. Die afstande van hul bane van die son af word volgens skaal in Fig. 287 aangegee. Pluto is nie ingesluit nie, maar dit is omtrent 1.3 maal die afstand van Neptunus van die son af.
- Vandag word Pluto nie meer as 'n planeet gereken nie nadat die definisie van 'n planeet in 2006 verander is. Pluto word nou as 'n dwergplaneet gereken.