Begin | Vorige | Volgende

404. DIE AARDE SE SATELLIET, DIE MAAN

Die middellyn van die maan is 2,160 myl, en dit is omtrent 239,000 myl van ons verwyder.

'n Verduistering van die son deur die maan bied ook 'n metode om die middellyn van die maan te bepaal.

Veronderstel ons gaan op reis na die maan. Teen 'n gemiddelde snelheid van 100 myl per uur sou ons dit na omtrent honderd dae bereik. In werklikheid is die maan se afstand van die aarde nie konstant nie, maar kan met 13,000 myl bokant of onderkant die gemiddelde waarde afwyk.

Met uitsondering van die son, vertoon die maan as die grootste voorwerp in die lugruim. Dit is omdat, van ons bure in die ruimte, die maan die naaste aan ons is. Sy middellyn is net iets meer as een-kwart van die middellyn van die aarde.

DIE MAAN SE MASSA.

Die massa van die aarde is omtrent twee-en-tagtig keer dié van die maan. Laasgenoemde waarde word bepaal deur die invloed wat dit op die aarde uitoefen. Die gemiddelde soortlike gewig van die maan se stof is omtrent 3.3 teenoor 'n ooreenkomstige waarde van 5.5 vir die aarde.

Die swaartekrag op die oppervlak van die maan is maar omtrent een-sesde van dié op die aarde. Iemand wat op hierdie planeet ses voet hoog kan spring, behoort ses-en-dertig voet te haal op die maan. 'n Voetbalspeler wat hier 200 pond weeg, sal op die maan net 34 pond trek.

DIE MAAN SE BAAN.

Die maan beskryf 'n elliptiese baan om die aarde onder invloed van laasgenoemde se aantrekkingskrag, in 'n rigting van wes na oos, (Sien Fig. 294). Elke opvolgende aand kom die maan gemiddeld vyftig minute later op, en as 'n horlosie dieselfde tyd aanwys as die vorige aand, dan is die maan meer na die oostelike kant toe. Die maan gaan eenkeer om die lugruim in 27 dae en 8 uur, die duur van een sterremaand. Die tydsverloop tussen twee opvolgende volmane, soos van die aarde gesien, is 'n sinodiese of maanmaand.

Begin | Vorige | Volgende