Begin | Vorige | Volgende

414. VENUS

Bewegings.

Venus snel deur die ruimte teen 'n spoed van 21 en 22 myl per sekonde en voltooi sy omloop om die son in 'n bietjie minder as 225 dae. Die baan is byna sirkelvormig met 'n gemiddelde afstand van die son van ongeveer 67,000,000 myl. Venus haal die aarde in, een keer elke neëntien maande. Die afstand van die aarde hang af van die relatiewe posisies van die twee planete en is 25 miljoen myl as hulle naaste aan mekaar is. 'n Oorgang van Venus oor die skyf van die son is 'n seldsame gebeurtenis ; die laaste was in 1874 en 1882, en die volgende sal nie voor die jare 2004 en 2012 plaasvind nie. Dit is moeilik om vas te stel hoe lank dit neem om een keer om sy as te draai, want daar is geen blywende merke op die oppervlak waar te neem nie ; die aanduidings is egter dat die duur van een aswenteling omtrent 'n maand is. Gevolglik is die planeet ook nie by die pole afgeplat nie.

Voorkome en Fases.

Venus beweeg in 'n groter baan as Mercurius ; dit kan dus vroeg in die oggend maklik gesien word gedurende of in nabyheid van die grootste westelike elongasie, of gedurende die namiddag

tydens oostelike elongasie, wanneer dit op die son volg en nie onderkant die horison wegsak tot omtrent vier uur na sononder nie. Die glansryke prag en helderheid van Venus is in die eerste plek toe te skryf daaraan dat dit betreklik naby is, en tweedens aan 'n wolkbelaaide dampkring, wat soos skoon wit sneeu die sonlig na ons oë terugkaats.

Deur 'n teleskoop blyk dat Venus ook fases vertoon. Volgens een skrywer het die Arabiere die planeet poëties vernoem as die "Gehoringde Ster". By uitsonderlike geleentheid is Venus gunstig geplaas, sodat dit gedurende die dag met die blote oog waargeneem kan word, en daar is gevalle gewees waar die verskynsel in die lug op die middag belangstelling, ontsteltenis, en selfs 'n paniek veroorsaak het.

Begin | Vorige | Volgende