Begin | Vorige | Volgende

417. MARS

MARS EN DIE ASTEROÏEDE

MARS

Mars is ons naaste buurman onder die buiteplanete. Sy baan lê buitekant dié van die aarde en, behalwe gedurende 'n paar maande elke twee jaar, is dit as 'n oranje-rooi ster in die lug te sien. Wanneer dit op sy naaste aan die aarde is, neem dit die ereplek na Venus in ; en, in teenstelling met dié sierlike planeet, kan dit as 'n uitstaande voorwerp in die middernagtelike hemel gesien word.

Die Planeet se bewegings in sy baan

Mars beweeg deur die ruimte teen vyftien myl per sekonde, waar ons planeet dus vinniger langs 'n binnebaan beweeg, vang dit Mars op en gaan hom verby, daar die planeet 687 dae neem om sy kringloop om die son te voltooi. Sy gemmiddelde afstand van die son is 141.5 miljoen myl, d.w.s. omtrent anderhalfmaal die aarde se afstand. Fig. 301 gee 'n voorstelling van die bane van Mars en van die aarde.

Hoewel die baan van die aarde ook 'n ellips is, is dit nie in dieselfde mate uitgerek nie, en daarby is die rigtings van verlenging verskillend, sodat die bane van die aarde en Mars is sommige rigtings nader aan mekaar kom as in ander. Die naaste wat Mars moontlik aan die aarde kan kom, is met opposisie, wanneer die aarde tussen die planeet en die son is, in 'n posisie waar die bane na aan mekaar lê. Dit kan gebeur dat Mars dan net 35 miljoen myl ver is. Opposisie kan egter plaasvind wanneer die bane 65 miljoen my van mekaar verwyder is.

Daar die Marsjaar van 687 dae byna tweemaal so lank is as ons s'n, moet die aarde van een opposisie na 'n ander 'n bietjie meer as twee kringlope om die son voltooi om weer met Mars op te vang.

Begin | Vorige | Volgende