418. MARS
Die sinodiese tydperk duur omtrent 780 dae. Die gunstigste opposisies is dié wat naaste aan die 25ste Augustus plaasvind. Mars, in opposisie omstreeks hierdie datum, maak 'n grootse vertoning in die middagnagtelike lug. Opposisies waarby Mars so digby die aarde kom, volg mekaar om die vyftien jaar ; die laaste gunstige opposisie wat in 1939. In opposisie kom Mars in die ooste op wanneer die son in die weste ondergaan.

Vir 'n tyd lank, beide voor en na opposisie, het Mars 'n skynbare agteruitgaande beweging. Dit is omdat die aarde dit inhaal en verbyloop. As Mars in konjunksie is met die son, kom dit saam op en gaan saam daarmee onder. Uit merke op die oppervlak blyk dat die duur van 'n volledige aswenteling 24 uur 37 minute 22½ sekondes is - die lengte van 'n Marsdag.
Afmetings van die planeet
Die middellyn van Mars by die ewenaar is 4,200 myl ; en daar sy aswenteling byna dieselfde is as dié van die aarde, vertoon dit 'n afplatting by die pole. Let op die volgende vergelykende tabel :
| Aarde | Mars | |
|---|---|---|
| Middellyn | 1 | > 1⁄2 |
| Volume | 1 | 1⁄8 |
| Massa | 1 | 1⁄10 |
'n Man wat 200 pond op die aarde weeg, sou sowat een-derde hiervan weeg op Mars, en omtrent driemaal sover spring.
Voorkome van die Planeet.
As dit in 'n afgeleë deel van sy baan is, trek Mars nie die aandag nie, en vertoon 'n baie klein skyf in 'n teleskoop. By gunstige opposisie is dit 'n skitterende voorwerp. Vanweë sy rooiagtige kleur is dit vernoem na die god van oorlog. Deur die teleskoop gesien, trek die volgende die aandag:
1. Twee-derdes van die klein ronde skyf het 'n lig oranje-rooi kleur. Waarskynlik is dit toe te skryf aan die aanwesigheid van groot kaal stroke rooi sand en hope ysterhoudende rotse.
2. Donker groen-blou areas kan herken word, veral in die suidelike halfrond. Hul weerkaatsingsvermoë is ver benede dié van groot stroke water. Hulle raak stadig in die najaar weg, en verskyn weer in die lente. Daar is waarnemers wat die mening toegedaan is dat hulle velde is, oorgetrek met 'n plantegroei. Ander weer dink dat die sogenaamde oasisse niks anders is nie as vulkaniese lawa wat kleurveranderings vertoon wanneer dit deur reënbuie benat is.