Begin | Vorige | Volgende

419. MARS

3. Wit streke (poolkoppe) verskyn rondom die pole gedurende hul respektiewe koue seisoene, en neem stadig af totdat hulle byna geheel verdwyn het in die middel van die somer. Beide noordelike en suidelike poolbedekkings strek in die winter baie nader tot die ewenaar as wat op die aarde die geval is, en krimp gedurende die somer tot 'n baie groter mate. As die poolbedekkings tot die oppervlak van die planeet behoort het, moes hulle beste openbaar word in foto's geneem met infra-rooi en lig van lang golflengte. Die teenoorgestelde blyk die geval te wees, en dit sal uit Fig. 303 duidelik wees dat die violet hulle op hul beste laat vertoon. Hulle moet dus in 'n groot mate aan die dampkring behoort ; waarskynlik wolke van yskristalle, hoewel die poolstreke bedek mag wees met 'n laag ys of sneeu 'n paar duim dik.

4. Groot wolkemassas wat van plek en vorm verander, is op die planeet waargeneem. Hulle is van tydelike aard, en is sigbaar in foto's met violet en ultra-violet geneem. Daar is twee soorte:

(i) Wit Wolke, waarskynlik gewone wolke van verdigte waterdamp of mis.

(ii) Groot massas geel wolke wat minder dikwels verskyn en soms groot dele van die oppervlak weke aaneen verberg. Die vermoede is dat hulle uit klein deeltjies rooi-geel woestynsand bestaan wat hoog in die lug opgevoer word deur stofstorms.

5. Die beweerde "kanale". In 1877 het 'n Italiaan, Schiaparelli, aangekondig dat hy op die oppervlakte fyn merktekens ontdek het, wat hy "Canali" genoem het. Die gedagte was dat die "kanale", as 'n netwerk van fyn lyne gesien, die poolbedekkings met die plant-begroeide velde verbind het. Dit sou 'n prestasie in die boukunde beteken wat enigiets van die aarde op die aarde ver oortref. Daar is rede om die objektiewe bestaan van die "kanale" in twyfel te trek, daar die oog, onder spanning om in die flou lig 'n beeld waar te neem wat aan aardtrillings onderworpe is, tydelik vermoeid word en geneig is om merkies met denkbeeldige dun lyne verbind te sien. Die "kanale" is nog nooit in portrette verkry nie, maar die plate is ook nie gevoelig genoeg om sulke fyn merkies aan te toon nie.

Vandag weet ons deur die ruimtetuie wat Mars besoek het en nog steeds daar is dat Schiaparelli se kanale beslis nie bestaan nie en dus 'n illusie van die oog en brein se werking was, wat hy gesien het.

6. Aanwesigheid van 'n dampkring. Die aanwesigheid van 'n uitgebreide dampkring is fotografies deur professor Wright van Lick-Sterrewag aangetoon (Sien Fig. 303 en 304). Die foto met infra-rooi lig geneem vertoon meer details van die oppervlak, terwyl dit uit die saamgestelde foto (Fig. 305) duidelik is dat die een met ultra-violet lig geneem, die grootste is. Die atmosfeer laat die infra-rooi deur, maar verstrooi die ultra-violet strale, wat dus nie daarin slaag om deur te dring tot die oppervlak van die planeet en weer terug te kom nie. Bereken van die foto wat die hoogte van die dampkring naastenby is. Die lug op Mars is baie yl - omtrent soos dié by 'n hoë bergtop op die aarde. Vergelyk dampkring van Venus.

Begin | Vorige | Volgende