422. MARS
Hulle is slegs 8 en 40 myl in middellyn. Phobos draai om Mars in 7 uur 39 minute.
DIE WET VAN BODE.
Uit die tekening van die bane van die planete sal dit duidelik wees dat daar 'n groot ruimte tussen die bane van Mars en Jupiter bestaan. Baie sterrekundiges het geglo dat êrens in hierdie ruimte 'n onontdekte planeet versteek was. In 1772 het Johann Bode (Duitsland) die ontdekking aangekondig van 'n merkwaardige verband wat bestaan tussen die waardes vir die afstande van die planete van die son. Die formulering van hierdie verhouding, wat empiries is, in die sin dat daar geen grond is waarvan dit kon afgelei word of wat dit kon verklaar nie, is bekend as die Wet van Bode.
Skryf die meetkundige reeks 0, 3, 6, 12, 24, 28 . . . . . Tel by elke term die getal 4. Die reeks word nou 4, 7, 10, 16, 28, 52 . . . . .
Verdeel elke term met 10 om 'n benaderde waarde te kry vir die afstande van die planete van die son, in verhouding tot die afstand van die aarde geneem as een. Die uitkomste gegee deur Bode se Wet, en dié deur meting verkry, word hier langs mekaar gestel.
| Planeet | Bode se Wet | Beraamde afstand |
|---|---|---|
| Mercurius | 0.4 | 0.39 |
| Venus | 0.7 | 0.72 |
| Die Aarde | 1.0 | 1.00 |
| Mars | 1.6 | 1.52 |
| Klein Planete | 2.8 | - |
| Jupiter | 5.2 | 5.20 |
| Saturnus | 10.0 | 9.50 |
| Uranus | 19.6 | 19.20 |
| Neptunus | 38.6 | 30.00 |
| Pluto | 77.2 | 39.50 |
Toe Bode hierdie verhouding aangekondig het, was die buiteplanete Uranus, Neptunus en Pluto nog onbekend. Dit blyk dat die waardes vir Mercurius, Venus, die Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus en Uranus soos verkry deur Bode se Wet, byna ooreenstem met die beraamde afstand, as 'n opening gelaat word by die posisie 2.8.
ONTDEKKING VAN DIE KLEIN PLANETE OF ASTEROÏEDE.
Na die formulering van Bode se Wet het sterrekundiges begin soek na die ontbrekende planeet, waarvan die afstand van die son 2.8 maal dié van die aarde sou wees. Die Siciliaanse sterrekundige, Piazzi, het deur groot ywer en volharding met die waarneem en katalogiseer van die posisies van groepe sterre in die lugruim, op 1 Januarie 1801 ontdek dat 'n dowwe voorwerp in die konstellasie Taurus op agtereenvolgende nagte met betrekking tot die vaste sterre verskuif het, en dus 'n planeet was. Hy het die nuwe planeet Ceres genoem, en dit is spoedig vasgestel dat dit om die son beweeg in 'n baan tussen dié van Mars en Jupiter. Verdere ontdekkings het hierop gevolg : teen 1807 het die asteroïede Pallas, Juno en Vesta die soektog van die sterrekundige beloon, en na die tyd het 'n sistematiese ondersoek van die streke in die buurt van die ekliptika na aan die meridiaan die aanwesigheid openbaar van meer as 1,200 van hierdie klein planete wat omloop in bane tussen dié van Mars en Jupiter.