424. DIE ASTEROÏEDE
Baie het middellyne van nie meer as 'n paar myl nie, en is waarskynlik van dieselfde geaardheid as onreëlmatige rotsmassas.

STREEK VAN DIE ASTEROÏEDE.
Die meeste van die asteroïede beweeg in elliptiese bane wat skuins staan op die vlak van die ekliptika en beperk is tot die ruimte tussen die bane van Mars en Jupiter. Een dring werklik deur in die baan van Jupiter, en 'n ander, in 1932 ontdek, gaan binne die baan van Venus, en kan tot drie miljoen myl van die aarde af kom.
OORSPRONG VAN DIE ASTEROÏEDE.
Die gedagte is geopper dat die swerm asteroïede die puin uitmaak van 'n planeet, kleiner as Mars, wat eertyds om die son geloop het in die opening tussen die bane van Mars en Jupiter en wat, deurdat dit te na aan laasgenoemde gekom het, uiteengespat het as gevolg van die geweldige getye veroorsaak deur die aantrekkingskrag van die reuseplaneet.