Begin | Vorige | Volgende

425. JUPITER EN SATURNUS

JUPITER.

Die reuseplaneet Jupiter was aan die volke van die Oudheid bekend, want dit is 'n uitstaande voorwerp in die hemelruim, gewoonlik die helderste na Venus, hoewel dit met lang tussenpose soms deur Mars oortref word.

DIE PLANEET SE BEWEGINGS IN SY BAAN.

Jupiter loop in 'n elliptiese baan. Sy gemiddelde afstand van die son is 483 miljoen myl. Dit trek deur die ruimte teen 8.1 myl per sekonde. Dit is in ooreenstemming met die algemene reël dat, hoe verder 'n planeet van die son, des te stadiger sy spoed. Sy omlooptyd om die son is 11.86 jaar. Tydens opposisie kan dit die minimum-afstand van 390 miljoen myl van die aarde af wees. Dit duur 399 dae van een opposisie na 'n ander. Die duur van sy aswenteling word bepaal deur merke op die sigbare oppervlak ; en daar hulle tot die dampkring van die planeet behoort en teen verskilllende snelhede omdraai, kan die tyd van een aswenteling aangegee word as tussen 9 uur 48 minute, en 9 uur 56½ minute. Dit draai dus geweldig vinnig om.

Afmetings

As gevolg van die snelle aswenteling is die planeet dus beslis platter by die pole en het die vorm van 'n platgedrukte lemoen. Die middellyn by die ewenaar is 89,000 myl, en by die pole net 83,000 myl. Jupiter se verhouding tot die aarde in grootte is soos 'n voetbal tot 'n albaster. Sy volume is 1,300 maal dié van ons planeet (Sien Fig. 288), maar die soortlike gewig van sy boustof is maar 1.34, en sy massa 318 maal die aarde s'n. Nogtans oortref die massa van dié reuseplaneet dié van al die ander planete in die sonnestelsel tesame.

Voorkome

Op sy naaste aan die aarde, tydens opposisie, kom Jupiter op teen sononder, en skyn deur die nag as 'n skitterende voorwerp met 'n effens geel lig, wat selfs Sirius, die helderste van die sterre, in helderheid oortref. In 'n teleskoop vertoon dit as 'n groot skyf wat duidelik by die pole afgeplat is. Die volgende is opmerklik:

Oor die skyf lê daar 'n aantal rooi-bruin strepe of gordels, ewewydig met die ewenaar. Tussen hulle lê helderder stroke. Beide die donker gordels en ligte stroke vertoon dikwels klein, duidelik omlynde, helder en halfdonker vlekke van veranderlike kleur en grootte, wat soms verskeie maande bly bestaan en dan verdwyn. Dit is waargeneem dat vlekke en merktekens op die ewenaar ander naby die pole inhaal en verbygaan, wat bewys lewer dat die verskillende stroke en gordels teen verskillende snelhede draai.

Die rooi Vlek.

Jare lank was die "Groot Rooi Vlek", vir die eerste keer waargeneem in 1878 as 'n ligroos ovaal, 'n kenmerkende trek op die oppervlak van die planeet. Dit het donkerder geword tot 'n baksteen-rooi kleur en in grootte toegeneem, tot 'n oppervlakte van 30,000 myl lank en 7,000 myl wyd. Dit het stadig dowwer geword, en is teenswoordig nouliks sigbaar.

Begin | Vorige | Volgende