70-cm Spieëlteleskoop
Hierdie bladsy beskryf die ontwerp en bou van die 70-cm spieëlteleskoop. Die teleskoop word tans ontwerp en gebou. Weens die probleme met die maak van die spieël sal die teleskoop waarskynlik lank neem om te voltooi. By voltooing sal dit die grootste amateur teleskoop en omtrent die 5de grootste teleskoop in Suid-Afrika wees. Die teleskoop sal hoofsaaklik die ontwerp van Robert Houdart se 110-cm Cruxis teleskoop volg met aanpassings soos nodig.
| Jongste nuus: 12 Junie 2011 |
| Die spieël is intussen na 70 cm verklein. Die snywerk het egter nie na wense verloop nie. Dit het effens skeef gesny en 'n 5 mm slootjie aan die een kant gesny. Die sny metode veroorsaak ook dat die dat meer aan die bokant van die rant weggesny word as onder wat die rant skuins laat. Die foute aan die rant moet reggemaak word voordat verder aan die spieël gewerk kan word. |
Geskiedenis
Sien geskiedenis vir volledige geskiedenis van die teleskoop.
Spesifikasie
Aangesien 'n stoor vir die teleskoop alreeds jare gelede vir die teleskoop gebou is, plaas dit sekere beperkings op die spesifikasie van die teleskoop. Die stoor dimensies was gebaseer op die tipiese Kriege/Berry Dobsonian Teleskoop. Sedertdien het heelwat nuwe ontwikkelings in amateur teleskoop ontwerp plaasgevind wat beter ontwerpe moontlik maak.
Stoor
Die stoorspasie wat reeds gebou is het die volgende interne afmetings:
| Afmeting (mm) | |
|---|---|
| Lengte | 3100 |
| Diepte | 1130 |
| Hoogte | 1500 |
Die spesifikasies vir die teleskoop is as volg:
- Optiese diameter van hoofspieël 700 mm.
- Brandpuntafstand van 3033 mm en dus 'n F-getal van F/4.3. Dit is tans die brandpuntafstand van die 76-cm spieël en dit sal behou word of effens verkort word.
- Maksimum lengte wanneer teleskoop na horison wys: 3080 mm.
- Maksimum hoogte wanneer teleskoop na horison wys: 1490 mm
- Maksimum wydte: 1110 mm
- Maksimum oogstuk hoogte van 2800 mm sodat 'n bestaande boordleer gebruik kan word.
- Op wiele gemonteer wees sodat dit op 'n spoor uit die teleskoopstoor kan beweeg.
- 100% beligting van die Cookbook kamera beeld area.
- Motor beheerd wees.
- Modulêr wees sodat dit uitmekaar gehaal na 'n donker plek vervoer kan word.
- Moet vanaf krag sowel as batterye kan werk.
- Afstandsbeheer via infrarooi. Moontlike beheer vanaf selfoon?
Ontwerp
Die ontwerp bestaan uit die volgende dele:
- Enkodeerders
- Grootte van Diagonaalspieël
- Hoofspieëlsel
- Hoofspieëlkas
- Bokas
- Buisvakwerk
- Beheerder
- Handkontrole
- Motors
- Motorbeheerstelsel
Bou
Die bou van die teleskoop bestaan uit die volgende dele:
Hoofspieël
Verkryging van die glas
Die glas vir die hoofspieël is toevallig bekom. Sien Akwarium glas vir detail.
Uitsny van die hoofspieël
Die hoofspieël is met 'n beskuitjiesnyer uitgesny.
Slyp van die hoofspieël
Die hoofspieël moet geslyp, gepoleer en gevorm word. Sien die slypjoernaal vir detail van die proses.
Diagonaalspieël
Maak of Koop?
Die eerste moontlikhied is om my ou 6.5-duim Pyrex teleskoopspieël te gebruik om die diagonaalspieël van te maak. Uit die oorblywend Akwarium glas sou ek 'n 12-duim spieël kon maak waarmee ek die spieël kon toets. Die tweede moontlikheid is om die diagonaalspieël te koop. Aangesien ek nie graag my ou 6.5-duim teleskoopspieël wil opsny nie het ek besluit om die diagonaalspieël aan te koop. Na 'n soektog op die Internet vir geskikte verskaffers is besluit om die spieël by Newport Glassworks aan te koop.